WIE gaan die nuwe Springbok-coach wees, gaan daar wel een wees en wanneer gaan mens weet wie dit is?
Al dié vrae het in die week telkemale in Suid-Afrikaanse rugbykringe opgeduik.
En met minder as ’n week oor voordat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) moet laat weet wie die septer in die Bok-kamp gaan swaai, wil dit lyk of hy ’n lat vir sy eie gat gepluk het.
Eers het gerugte in Ierland die ronde begin doen dat Gert Smal as die Iere se voorspeler-coach gaan aanbly en nie dadelik vir die Bok-joppie beskikbaar sal wees nie.
Maar feit van die saak is dat hy sterk in die Bok-pos belang stel en dit sal vat as hy die kans kry.
Die Stormers se coach, Allister Coetzee, het Donderdag laat weet hy is nie vir dié pos beskikbaar nie. Sy belange is op die oomblik 100 persent by die Kaapse span.
Nadat Rassie Erasmus laas week uit sy pos as direkteur van rugby by Province bedank het, was die aanduiding dat hy die pos as Bok-coach sou kry.
Dit was tot en met Donderdag toe foto’s op die fotoverskaffer Gallo Images se website verskyn het en waar Erasmus “oor sy nuwe pos by Saru praat”.
By navraag het Saru se woordvoerder, Andy Colquhoun, gesê dit is ’n fout en verseker dat Erasmus “glad nie ’n pos by Saru beklee nie.
“Hy is nie eers in die land nie,” het Colquhoun gesê.
Die fout het by Gallo gelê, wat die verkeerde bewoording geplaas het. Hy het ’n paar minute later die bewoording by die foto’s verander.
Dit het toe só gelees: “Rassie Erasmus gesels oor sy bedanking by die Westelike Provinsie.”
Of Erasmus wel volgende week dié tyd ’n pos by Saru gaan hê, is nog ’n mystery. As hy dan wel op dié unie se payroll is, sal dit eerder weer as tegniese raadgewer wees.
Lees die volledige berig in die koerant.