Hulle skeer seker die gek!
Nieu-Seelandse boere het met die idee vorendag gekom dat skaapskeerdery een van die dae as ’n Olimpiese sport aangebied behoort te word.
En dis nie ’n wolhaarstorie nie. Hulle is heel ernstig as hulle sê hulle wil ’n goue medalje op dié elite-byeenkoms wen.
As hulle dit nie daar kan doen nie, wil hulle ten minste op die Statebondspele ’n kans kry.
Die voorsitter van die Nieu-Seelandse vleisraad, Jeannette Maxwell, sê skaapskeerdery verdien internasionale erkenning en het die potensiaal om as ’n demonstrasie-sport op die Statebondspele, of selfs die Olimpiese Spele, aangebied te word.
“Ek kan getuig van die fisiese effort wat dit verg om ’n skaap te skeer. Ivan Scott, Kerri-Jo te Huia en ons eie wêreldkampioenspan kan dit ’n trappie verder vat,” het sy aan die Nieu-Seelandse website Stuff.co.nz gesê.
Maxwell meen die meesterskeerders knip tot 700 skape se wol in agt uur en reken die meeste ouens skat dis net so erg as om twee marathons ná mekaar te hol.
Vroeër vandeesmaand het Scott, ’n Ier, 749 lammers in agt uur geskeer en ’n wêreldrekord opgestel. Die Kiwi Keeri-Jo te Huia het in agt uur 507 lammers deurgedraf om die wêreldrekord vir vroue te verbeter.
Lees die volledige berig in die koerant.