Sny daai vratte uit! Sny daai vratte uit!


Maandag 20 Februarie 2012

  •  
  • 0
     Like dit
  •  
  • 0
     Like dit nie


Vratjies kan nogal knewels word as jy nie daarna laat kyk nie.
Vratjies kan nogal knewels word as jy nie daarna laat kyk nie.

My ma glo tot vandag toe nog dat dit ’n doodgewone aartappel was.

 

Of dit wél ’n aartappel is wat die geheimsinnige “oom” daai dag in 1983 op die sypaadjie voor die KVK (die koöperasie-winkel in Kakamas) aan my vyfjarige vratbesmette handjies gesmeer het, weet ek tot vandag toe nie.

 

Dis nadat die dokter op die dorp se salfies en druppeltjies nie hond haar-af, of sal ek sê hand vrat-af kon maak nie, dat Ma dié geheimsinnige man (’n vriend van ’n buurman se neef se vriend se buurman) genader het om haar seuntjie te ontvrat.

 

Die ou het ons vooraf gewaarsku dat sy vratmedisyne top secret is en dat ons onder geen omstandighede mag kyk wat hy doen nie. Om die waarheid te sê is die hele ontmoeting uiters geheimsinnig benader. Hy sou ons net na toemaaktyd voor die winkel ontmoet, my hande (wat ek heeltyd agter my rug moes hou) met ’n glibberige affêre behandel wat hy sorgvuldig aan net ’n paar van my vratjies sou smeer, voordat Ma hom sou betaal en hy weer in die skemertes van Kakamas se hoofstraat sou verdwyn het.

 

Of dis hoe ék dit onthou.

 

Wat ookal daai dag aan my vratjies gesmeer is, het soos ’n bom gewerk.

 

Die rede hoekom ek vandag, bykans 30 jaar later weer wonder oor daai medisyne, is oor ’n SMS wat ek vroeër dié week van ’n Sondag-leser gekry het.

 

“Soek raad vir soolvrate als probeer, help! Tessa van Fkraal,” het die boodskap gelees.

 

As Tessa voor my gestaan het, sou ek haar waarskynlik vertel het dat ’n soolvrat ’n doodgewone vratjie is wat op jou voetsool voorkom. 

 

Of dat die rede hoekom dié vratte ekstra lastig is, is omdat die liggaam se gewig die vrat in jou voetsool indruk en dit sodoende erge ongemak of selfs pyn kan veroorsaak, veral soos die vrat groter word.

 

Ek sou haar waarskynlik ook gevra het waar op aarde Fkraal is.

 

As sy gevra het wat presies so ’n vratjie veroorsaak, sou ek vertel het dat dit ’n velgroeisel is wat deur ’n onskuldige virus veroorsaak word. 

 

En ek sou sê dat dié virus aansteeklik is en ’n mens dit kan kry deur kaalvoet te loop waar iemand anders met soolvratte geloop het – plekke soos storte of publieke swembaddens. 

 

As Tessa tyd gehad het, sou ek vertel het van die interessante soolvrat-navorsing wat oor die laaste 100 jaar gedoen is – navorsing waartydens ’n paar effe eksentrieke wetenskaplikes selfs al ’n suksesvolle soolvrat-oorplanting uitgevoer het. 

 

Ek sou haar daarna geantwoord het dat ek g’n idee het hoekom hulle so iets sou wou doen nie.

 

Soos ons gesprek einde se kant toe sou staan, sou ek vir Tessa vertel het dat dit die beste plan is om ’n dokter te vra om dié soort vratte uit te sny of te vries voordat hulle versprei of té groot word.

 

As sy egter sou aandring daarop om dit self te probeer behandel, sou ek vertel dat, omdat ’n soolvrat ’n gewone vrat is, ’n ou dit nes enige ander vrat kan behandel – met salisielsuur-verwe soos Duofilm of met silwernitraat in die vorm van ’n helsteenstafie (caustic pencil) wat slaafs aangewend word. Én dat dat die dooie vel wat bo-op die vratte vorm, twee keer per week afgeskuur moet word.

 

En as ek geweet het wat daai ou in Kakamas gebruik het, sou ek haar daarvan ook vertel het.



 

Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Sondag behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.


Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Sondag-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar ( 1 )


  • carl bester :
    Vry soetolie elke aand bedtyd aan die vrat gedeelte. Die olie blok die suurstof en die vrat sterf en gaan weg....maklik
    2012/02/22 04:34:06


Bladsy 1 van 1
Jou naam : Jou e-posadres :





Wat sê jy?

Het jy al jou e-tag gekoop?

Ja, ek wil nie in die tjoekie slaap nie.
Daar is nie 'n manier dat ek daai ding koop nie.
Gelukkig gaan ek nooit daai paaie ry nie.
Stem