SKINDER is ’n gesprek tussen losbek-sotte.
Dis hoe die online woordeboek Urban Dictionary dit definieer.
Dié woordeboek som dit verder op as iets wat nare mense doen wanneer hulle verveeld is, geen lewe het nie of bloot net regtig stupid is – ’n effektiewe manier om iemand in die rug te steek.
Tog is skinder nie noodwendig ’n slegte ding nie.
Die blote feit dat jy hierdie koerant vashou, is bewys daarvan: Jy geniet heel waarskynlik jou skinderstories, en jy’s nie ’n (te) slegte mens nie, né?
In ’n onlangse artikel in die Journal of Personality and Social Psychology meen wetenskaplikes skinderbekke hoef nie hul koppe in skaamte te laat sak nie.
Om die waarheid te sê, hulle reken wanneer jy niks goed het om van iemand te sê nie, jy dit maar net sowel kan sê.
Veral as jy vermoed jou geskinder kan moontlik iemand se slegte gedrag in die bek ruk.
Tydens die studie is die effek wat skinder op skinderbekke het, ondersoek.
Volgens dié resultate wil dit lyk of ’n geskinder moontlik ’n goeie ding is, mits dit die regte tipe skinder is.
Tydens ’n reeks eksperimente het die slimkoppe veral gekyk na skinderstories wat kop uitgesteek het nadat iemand oneerlik of onbetroubaar was – sogenaamde pro-sosiale skinderstories.
Die skinder-spesialiste het bevind wanneer iemand ’n ander persoon se slegte kant sien, daai persoon dikwels gefrustreerd voel oor slegte gedrag of manewales wat hy waargeneem het.
Wanneer hy die kans gegee word om iemand anders daarvan te vertel, word die frustrasie wat hom tot skinderstories gedryf het, meestal gestil.
Een van die slimkoppe betrokke by die navorsingsprojek (’n sosiale sielkundige) beweer dat dit wat ons gewone ouens as skinder sien, eintlik gedrag is wat gemotiveer word deur ’n opregte begeerte om ander te help.
Skinderbekke probeer inderwaarheid net om ander mense te beskerm teen die hoofkarakter in hul skinderdramas.
Skinder is glo ook goed vir jou hart.
Wanneer ’n skinderbek bewus raak van iemand se donker geheime, skiet sy harttempo dikwels die hoogte in.
Lees die volledige berig in die koerant.