Underworld: Awakening (die vierde in dié reeks flieks) gly dié keer sommer reg onderdeur.
Hoewel dié warm patat vandeesweek die meeste geld in Amerika en Suid-Afrika gemaak het, is dit so eentonig dat selfs die weerwolwe jel nodig het om hulle hare te laat regop staan.
G’n wonder Scott Speedman het die hasepad gekies nie. Hy moes aan die slaap geraak het!
The Darkest Hour steel lag-lag sy kroon as die Graaf van Gruwels en wys dat Emile Hirsch ook pret kan hê, al is sy spiere nie so snaarstyf soos ander spiertiere s’nʼnnie.
Die enigste rede waarom ’n mens nog daaraan sou dink om die onderwêreld om te dolwe en te kyk hoe mense weerwolwe en vampiere omklits, is om seker te maak dat Kate Beckinsale steeds in haar katpakkie pas.
Daai lyfstyf-kleefkunswerk het menige ou al wakker gehou deur die eindelose bloedvergieting, gevegte en verskietende sterre.
Niemand gaan kyk meer na Underworld vir die storie nie. Daar het omtrent soveel storie oorgebly soos glimlagte by ’n dissiplinêre verhoor.
The Darkest Hour het darem ʼn’n aks meer van ’n storie wat ’n mens in meer as een asemteug kan vertel.
Twee koel latte, Emile Hirsch en Max Minghella beland in Moskou. Dit word gou duidelik waarom selfs die kommuniste uit die Russiese hoofstad gat skoongemaak het. Dis besmet deur onsigbare mensvreter-wesens uit die buitenste ruim wat op elektrisiteit floreer en die ganse mensdom met een besoek uitwis wanneer hulle soos verligte skilfers op die stad neersak.
As jy glo dat twee lig-in-die-broek laaities hierdie gruwelmonsters kan uitoorlê, dan sal jy ook glo dat daar nog ’n oorspronklike breinsel in Hollywood oor is!
Lees die volledige berig in die koerant.