Kom ons noem dit sommer maar ’n geskiedenisles met ’n gatskop-klankbaan.
Die Thesaurus beskryf punkmusiek as volg: “Punk-rock music with deliberately offensive lyrics expressing anger and social alienation; in part a reaction against progressive rock.”
Nou kyk, ons almal ken vir Fokofpolisiekar en die honderde nabootsende wannabe-groepies wat ons radio’s en televisiestelle versier.
Ons almal het al gehoor van die Voëlvry-beweging. Van ouens soos Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis wat gerebelleer het teen Apartheid. Maar wie het al gehoor van bands soos Koos, van Punk rockers soos Suck en National Wake?
Nie baie nie. Keith Jones en Deon Maas se produksie Punk in Africa is vinnig besig om dit te verander.
En almal, nie net aanhangers van punkmusiek nie, maar van alle musiek, behoort dit te kyk. Ons is dit verskuldig aan hierdie bands – bands wie se musiek nooit die luggolwe gehaal het nie.
Wat permanente aanslae deur die veiligheidspolisie moes trotseer. Die enigste rook wat hierdie ouens op stage gesien het, was traangas.
En die enigste ligte, die flitsligte van bedonnerde polisiemanne.
Punk in Africa gaan oor die stigters van Suid-Afrikaanse punk, hulle stories en verlange na ’n verlore era wat strek vanaf die 1970’s tot hedendaagse groepe.
Dit gaan ook oor bands in Maputo, Mosambiek, en dié in Harare. Lede van die bands word teruggevat na plekke soos Rockystraat in Yeoville en Langstraat in Kaapstad, waar hulle die kyker vertel van die gigs en hulle ervarings.
Die meeste van hierdie bands was veelrassig. Iets amper ondenkbaar gedurende die streng beheerde apartheidsjare.
Lees die volledige berig in die koerant.