Sondag het dié week nadere ondersoek gaan doen oor hoe dit lyk by die Enoch’s Walk Bible Centre. Dít onder die dekmantel van ’n alkoholis en sy vroutjie, sodat ons die inwoners en bestuur so natuurlik as moontlik kon bekyk.
Dawid Roux, Sondag se fotomeester, speel die rol van my alkoholisman. Dawid is nie ’n drinker nie en hy dink nie hy gaan sy rol oortuigend genoeg speel nie
“Dis mooi hier. Dit lyk soos die paradys,” is my eerste woorde toe ons by die sentrum se grondpad indraai.
Ek het die vorige dag ’n telefoniese afspraak met Mark gereël en was skoon in trane oor my “man” wat hom kastig uit sy werk uit drink.
Ons was bang dat hulle nie oopkaarte gaan speel en dat ons dan nie die hele plek sou kon sien, indien ons nie “undercover” sou gaan nie.
Dis doodstil.
Ons vat die verkeerde afdraai en beland by Sherwood House, die verslaafdes se woonkwartiere. Bruingebrande, gespierde mans is besig om te werk.
’n Ouerige Engelssprekende man vra wat ons soek. “Ons soek die detox-sentrum.” Ons moet verby die karavane draai, sê hy. Dit lyk soos ’n skrootwerf.
In skrille kontras met Sherwood House, lyk die hoofkompleks se tuine asof Eva haar hand daaroor gevee het.
Ons kry vir Mark. “Jy kan ophou drink met genade van bo,” sê hy.
“Ons kan vir Dawid regkry. Werk en kerk,” meen Mark. “Ons het nie enige arbeiders nie. Die plaaswerk word deur julle gedoen.”
Later ontmoet ons die oud-beroepsbokser Gregory Schmidt, wat in die jare sewentigs ’n professionele liggewig was.
Hy staan met sy kaal bolyf by die Hennopsrivier en kap vuurmaakhout.
Die jongerige outjie wat saam met hom werk, praat nie ’n woord nie. “Ons is soos robotte,” sê Gregory, wat nou al bykans veertien maande hier is. Eers was hy daar vir dwelms.
Toe besluit hy, nes Gavin van den Berg, om self op te hou en nou is hy ook ’n berader. “Ek was, na ek uit die tronk gekom het, by ’n Bybelskool en het ’n beradingskursus voltooi.
“Ek weet hoe om met die ouens te werk, maar ’n mens kan maklik die einde van jou pad hier bereik,” sê hy.
Gergory bly darem in die hoofhuis, maar word nie betaal nie. En hy moet ook, soos die ander ouens werk, al “gebruik ek al lankal nie meer drugs nie.”
Lees die volledige berig in die koerant.