Die eens stil en stemmige strate van Koffiefontein in die Vrystaat word nou bedreig deur ’n hool in die hoofstraat.
Die Hap en Tap-shebeen wat in die middel van ’n woongebied geleë is en deur ’n spul Chinese bedryf word, het die klein myngemeenskap in rep en roer.
’n Vergadering is dié week gehou en Sondag is eksklusief uitgenooi.
Lede van die gemeenskap het in die vergadering hul ongelukkigheid en misnoeë oor die shebeen uitgespreek en gesê hulle gaan alles in hul vermoë doen om die hool se deure te sluit.
Klagtes dat die plek ’n dwelmnes is, soveel lewens al gekos het en kinders in die verderf lei, was volop tydens die vergadering.
Stories van aanrandings en verkragtings het alledaags geword:
“Jy sit nog in jou huis en hoor ’n meisiekind skreeu daar agter die bome in die veld en jy weet, ja, daar’s nog een wat verkrag word,” sê ’n inwoner.
Baie van die inwoners het van soortgelyke sekskapades vertel van hoe die dronkies, wat by die shebeen uitstap, die daad doen waarookal hulle ’n donker hoekie kry.
Dit sluit in mense se erwe, agter huise, asook by die ou verlate munisipale swembadgebou.
Sondag het die gebou besoek. Dit is vervalle.
Dit is gevandaliseer en effies en onderklere lê die hele plek vol.
Musiek, dronk mense se geskreeu, seksklanke hoorbaar vanaf jou stoep en die gejaag en gespin van karre is nie meer snaaks nie.
Stories loop ook in die dorp dat ’n jong man net as “’n regte drywer” gesien word as hy ’n kar kan spin en sy naam in die sand kan spel.
Inwoners voel glad nie meer veilig in hul eie huise nie.
Stoepe en vensters word toegebou en hoër mure word opgerig sodat die dronkies wat uit die shebeen kom, die huise nie verder kan beskadig nie.
Die shebeen laat ook die huise se waarde val.
Huise kan nie verkoop word nie en die bankbestuurder vertel hulle reguit: “Sorry, jou huis is in ’n hoë-risiko-area”.
Niemand is in kennis gestel toe die nes sy deure oopgemaak het nie.
“Daar’s mos regulasies wat gevolg moet word,” het pastoor Jack Matthys gesê.
“Die shebeen is skuins oorkant ’n kerk. Daar is ook ’n skool net om die hoek.
“Niemand het vooraf briewe of kennisgewings gekry nie.”
Die Chinese wat die nes bedryf, is nie eers die eienaars nie.
Die eienaar, ene mev. Pretorius, verhuur die plek aan hulle en sy het self besluit die lawaai van Koffiefontein raak nou te erg.
Sy bly nou in ’n ander dorp, maar laat steeds toe dat die Chinese die dorp in die grond in dryf.
Lees die volledige berig in die koerant.