Jy is geblinddoek en moenie dink jy mag kla nie.
Vir die meeste van ons is die Grondwet net ’n boekie waarin allerhande hoogdrawende goed geskryf staan. Dit verander nie juis veel aan die gewone ou se daaglikse stryd om liggaam en siel aan mekaar te hou nie.
Maar glo my, as ons die ANC sy sin gee met sy plan vir ’n media-tribunaal, gaan dit ELKEEN van ons se gewone, daaglikse lewe raak - EN NIE TEN GOEDE NIE!
Want die tribunaalplanne is die ANC-politici se manier om hulleself in ’n posisie te plaas waar hulle die land ONGESTOORD kaal kan plunder sonder dat hul skandes uitgeblaker kan word.
Met so ’n tribunaal sal die ANC homself in staat stel om vir die koerante voor te skryf wat om te sê. Hulle sal ANC-beleid moet verkondig en as dit kom by hulle eie soustrein-korrupsie, kan hulle koerante se bekke toe duct tape.
As hulle hulle sin kry, kan jy vergeet dat daar ooit weer ’n pot-hole reggemaak gaan word of ’n steek werk in die publiek se belang gedoen gaan word.
Gewone Suid-Afrikaners gaan krepeer van ellende terwyl ’n paar fat cats blinkvet gaan word. Waar hulle die land nou stadig leeg steel, sal hulle dit dan vinnig kan doen.
Daar is nou net ’n paar honderd fully korrupte amptenare. Die meeste ander politici in magsposisies is bloot lui wetters wat agteroor sit en niks doen nie, want hulle is te bang hulle word gevang as hulle hulle kloutjies in die koekblik begin druk.
As die kans dat hulle betrap word verdwyn, lê daar swarigheid vir ons almal voor.
Daar is twee lande met die soort tribunale wat hier beplan word: die ANC se buddies: Zimbabwe en China.
Dit gaan hier spesifiek oor die drukmedia. TV en radio val buite die ANC se tribunaalplan. Dis maklik om te raai hoekom: Koerante het die afgelope paar jaar stringe voorbeelde van korrupsie ontbloot, terwyl die uitsaaimedia se nuus lekker verwater word en baie min sê wat die ANC kan ontstel.
En moenie dink die ANC voel niks oor die koerante se onthullings nie.
Die Sunday Times het ’n paar jaar gelede hospitaalrekords vasgelê waarop hulle hul onthullings gebaseer het oor wyle minister Manto se omstrede leweroorplanting.
Manto het haar magte misbruik en voor in die oorplantingsry ingedruk, nadat sy haar eie lewer moer toe gesuip het.
Die ANC kerm nou nog dat die joernalis wat die storie geskryf het, vervolg moet word. Terwyl elke regdenkende mens kan sien dis in elke Suid-Afrikaner se belang dat die publiek moet weet wat daai horlosiedief met ons staatsgeld en -lewers maak.
Kom ons kyk bietjie hoe werk dinge op die oomblik:
Daar is baie streng, maar regverdige wette wat reguleer wat ’n joernalis mag skryf. En as ’n gewone ou voel hy is deur ’n koerant ingeloop, hoef hy nie die moeite en geld op te offer om hof toe te gaan nie - hy kan by die pers-ombudsman gaan kla.
Die pers-ombudsman, ’n baie ervare oudjoernalis, word dan deur oudjoernaliste én lede van die publiek bygestaan as hy die saak ondersoek en ’n uitspraak lewer. En as die klaer nie van die uitspraak hou nie, kan hy appelleer.
Maar die ANC wil nou ’n tribunaal as nóg ’n appélkanaal hê.
Die tribunaal sal “onafhanklik” wees, maar deur die regering aangestel word.
Die regering sal die lede ook betaal en hulle sal aan die regering verslag doen.
Die tribunaal sal niks van joernalistiek af weet nie, maar sal strafregtelike magte hê om joernaliste wettig te laat toesluit vir onmeetbare goed soos “swak” joernalistiek, sensasionalisme of rioolberiggewing!
Mense sal nie eers mag lees wat hulle wil nie! Erger nog - hulle sal nie mag kla daaroor nie!