Tot nou toe is brandstofpryse gesien as ’n dierasie wat self besluit waarheen hy draf.
Maar nou het dit tyd geword dat die regering erns maak met die petrolprys.
Woensdag bereik die petrolprys rekordhoogtes wanneer jy R10.77 vir ’n liter sous by ’n Gautengse pomp gaan betaal.
Dis ’n hele 22% duurder as hierdie tyd laas jaar.
Teen dié tyd weet ons almal wat dit beteken: duurder kos, duurder verbruikersgoedere.
Sondag sal so ver gaan om te voorspel dat die wilde sousprysstyging mense hierdie keer hulle werke gaan kos.
Die ANC sal natuurlik vinnig daarop wys dat die petrolprys saamgestel word deur die wisselvallige rand-dollar-wisselkoers en die prys van Brent-ru-olie in hulle formule in te reken.
Maar hulle verswyg gerieflikheidshalwe dat hulle die petrolprys gebruik as net nog ’n manier om die belastingbetaler droog te melk.
Kyk net bietjie wat is alles in die prys van een liter petrol ingereken: 177.5c as ’n algemene brandstofheffing. 80c as ’n Padongelukfondsheffing.
En dan vat die goewerment sommer vir die wis en die onwis 4c per liter as ’n doeane- en aksynsheffing.
Dit beteken dat R2.61 van die geld wat jy by die pomp per liter betaal, regering toe gaan - dus 25% van die geld wat Suid-Afrikaners op petrol bestee!
Dan praat ons nie van lisensiegelde, koolsuurgas-heffings en BTW op motor-aankope nie. Dan wil hulle nou waaragtig tolheffings instel op paaie waarvoor ons belastingbetalers reeds betaal het en waarvan die regering die onderhoudsgeld op ander goed geblaas het.