As hy reg getel het, sê Kierie Claassen, het Bolla Conradie en ’n stuk of vier ander spelers reeds hulle plekke in die Springbokspan teen Engeland bespreek.
Kommentators en sportskrywers het sommer ná die eerste vriendskaplike wedstryd van die jaar namens etlike spelers ’n kleim afgepen. Die helfte van die ander plekke in die span sal dalk ná die tweede naweek se wedstryde gevul wees, reken Kierie.
Syns insiens is die manne van die media, asook erkende rugbykenners, oorhaastig met die uitdeel van plekke. Maar dit wys hoe ywerig hulle is om ’n nuwe span saam te stel.
Sedert die vorige Springbokke met leë hande en vol beursies van oorsee af teruggekeer het, is heelparty fans bereid om aan 10 of 12 van hulle die status van voormalige toetsspelers te gee.
Nogtans, sê Kierie, moet ons nie verbaas wees as die nuwe afrigter sy span om Morné Steyn, Pierre Spies en so vyf ander Blou Bulle bou nie.
Vlooi du Plooy, wat die afgelope drie toernooie van die Transvaalse Vuurhoutjieklub gewen het, sê hy het vanjaar nog nie na ʼn enkele wedstryd gekyk nie. Hy het sy vrou belowe hy sal hoogstens 11 maande per jaar aan rugby afstaan.
Maar wat hom by voorbaat ontstig, is dat die Springbokke vanjaar vier keer teen Engeland speel. Dit lyk na ’n erger wanbalans as tussen Limpopo se inkomste en uitgawes.
Hy het niks teen die Engelse nie, sê Vlooi. Behalwe hul fans met die sterk dors en swak maniere. Baie van hulle het groter pense as leiers van ’n politieke party waarvan hy nie die naam in goeie geselskap wil noem nie.
Jy sien deesdae groter pense in die parlement as by ’n vendusie in die Marico, beweer Vlooi. Maar vergeleke met lede van die Barmy Army lyk die ou wat een jaar op die veld gewaggel het om ’n Ierse skeidsregter te gaan aanspreek soos Twiggy se kleinboet.
Frik Voete sê dit is juis iets waaroor hy ’n paar woorde wil sê. Syns insiens is dit skandalig dat die rugbybase nie daarop aandring dat Bryce Lawrence vanjaar vir minstens een toets in Suid-Afrika as die skeidsregter aangestel word nie.
Lees die volledige berig in die koerant.