Daar word lank reeds gesê die grootkoppe by Sanzar is ’n spul patatkoppe, maar dis nou duidelik dat dié deurmekaarsiele nie heeltemal weet waarmee hulle besig is nie.
Dit volg nadat hulle in die week die Bryce Lawrence-sage nog verder uit verband geruk het deur te sê dié ref sal wel in Superrugby games blaas. Dalk in Suid-Afrika, maar dalk ook nie.
Lawrence was eerste aan die beurt toe hy vroeg in die week onthul het dat hy nou mooi na daai kwarteindstryd in die World Cup tussen die Bokke en die Aussies gaan sit en kyk het en dat hy nie heeltemal konsekwent was nie.
Hy erken hy het foute gemaak, maar almal maak mos foute en hy vat sy kritiek van wie dit kom.
Hy het ook genoem dat hy bietjie bang is om in Suid-Afrika te gaan blaas nadat hy op Facebook en per e-posse dreigemente gekry het dat SA fans op hom gaan spoeg.
Dit sal tien teen een gebeur, maar net omdat hy op die Bokke se kans gespoeg het om die Webb Ellis-trofee te wen.
Sanzar het later in die week laat weet Lawrence gaan nou gerehabiliteer word en in geen groot Superrugby game blaas nie. Hy moet eers sy selfvertroue terugkry.
Maar hoe rehabiliteer jy ’n ref? Hy kan óf blaas óf nie. As hy goed genoeg is, sal die rugbybase hom gebruik.
Die Internasionale Rugbyraad (IRR) het nie eers genoeg vertroue in dié knaap gehad om hom op die paneel te plaas om van die Sesnasies-games te ref nie. Dit vertel tog seker iets as dié grootkoppe hom nie eens vertrou nie. Tog is Lawrence einde laas jaar as Nieu-Seeland se topblaser aangewys.
Wat Sanzar presies met “groot” Superrugby games bedoel, is nie seker nie, want ELKE game in die Superreeks is deesdae massief, veral omdat daar nou so baie derbies is. Boonop sal elke SA span vanjaar vir oorlewing moet jol as hulle nie aanstaande jaar vir die Kings wil plek maak nie.
Verlede week was daar gerugte dat Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), geoormerk is om die Internasionale Rugbyraad (IRR) se nuwe baas te word.
As dit gebeur, kan hy die Sanzar-lede regruk en hulle ’n nuwe blaadjie laat omslaan sodat hulle nugter oor sake kan dink.
Vir Lawrence die volgende stukkie raad: as jy nie saam met die groot honde kan piepie nie, moet dan nie saamblaf nie.