EK het vandeesweek twee dae uit my lewe heeltemal verloor, my bloeddruk in ’n sterker groep tablette in verplaas en myself twee jaar nader aan longkanker gerook.
Ek het ook al my vertroue in Vodacom en MTN (dis darem nou al ’n hele tydjie) asook Telkom verloor.
Daar is net een brandmaer amptenaartjie by Hatfield se Telkom-kantoor wat ek glo gerus die Helkom-spulletjie kan oorneem en bestuur. Hý het my lewe gered!
Die horing selfoonontvangs vanaf Vodacom en MTN in die voorstad waar ek woon in Pretoria, het my oor die afgelope week genoop om Telkom se ADSL-diens by my huis te laat installeer. Die swak ontvangs is glo omdat die PREZ een van my bure is, vertel ’n tegnikus my. Nou wat nou? Steel die regering dan nou my selfoonseine ook!?
Eintlik het dit begin met ’n wonderlike-onoortreflike-eenkeer-in-’n -leeftyd-aanbod van Telkom om die fantastiese ADSL-diens so te sê verniet vir my beskikbaar te stel.
Teen my beterwete in sê ek toe ja vir die telefoonaanbod en kort na die nuwe jaar bel ’n jafel my van Telkom om te sê ’n tegnikus sal my bel om te kom installeer.
’n Vreeslike vriendelike man bel toe inderdaad en maak ’n afspraak. En kanselleer die afspraak minute later, want hulle het nie meer voorraad van die wireless boksie wat hy moet kom installeer nie.
’n Week later bel die jafel weer, maar die keer daag die bebrilde slegs Engels-magtige tekkie sonder vooraf-kennisgewing by my deur op - dit was Maandag.
Hy het dak geklim, was ’n paar keer op die paal en het ’n glas Coke uitgedrink toe is fase 1 van die job klaar, thank you very much!
Toe hy sy brilletjie met sy middelvinger oor sy vetterige neusie terugskuif, toe weet ek, die man se beste jare was die vier in standerd 6.
Hy tjorts hier en enter daar en klik my muis verwoed, maar niks gebeur nie. Hy bel ’n baas of twee, vra “passwords” en ”logons” en tjommel dan weer op die keyboard.
En toe staan hy op en verklaar dat ek maar met die IT-afdeling by my kantoor moet praat, want daar is ”Lan settings” en “VPN-codes” wat moet verander. En hy’s daar weg en dag een is ook koebaai.
Toe daar teen Woensdag niks gebeur nie, bid ek die aand en besluit Donderdag gaan die dag wees.
Dis toe dat ek 10210 bel. Druk 1 vir dit en 2 vir dat sê ’n lustelose stem vir my - en 8 as ek weer wil hoor. Ná twee uur se gestuurdery van bakboord na stuurboord met die een agent wat minder weet as die volgende, land ek op die laaste lyn uit die hel. Die stem sê, “your call will be answered in approximately 25 minutes”. Ek verloor dit, klim in my kar en RY Telkom toe.
Ná 20 minute in ’n ry help die maer mannetjie my - tjoef-tjaf!
Helkom werk só: In Hatfield sit die knapie wat eintlik die hele organisasie bestuur - want hy weet wat’s die “logon” en die “password”!